Die Potala-paleis (Tibettaans: པོ་ཏ་ལ) in Lhasa, Tibet, was die amptelike woning en regeringsetel van die Dalai Lamas tot met die 14de Dalai Lama, wat na Indië gevlug het tydens die 1959-opstand in Tibet. Dit is nou ’n museum en wêrelderfenisgebied.
paleis dalai lama tot 1959
Die paleis is genoem na Berg Potalaka, die mitiese woonplek van die bodhisattva Avalokiteśvara. Die 5de Dalai Lama het die bou daarvan in 1645 begin. Dit lê dalk op die oorblyfsels van ’n vroeëre vesting met die naam Wit of Rooi Paleis wat Songtsän Gampo, stigter van die Tibettaanse Ryk, in 637 op die terrein laat bou het.
Die gebou is van oos na wes 400 meter en van noord na suid 350 m, met mure van gemiddeld 3 m dik (5 m by die basis) en koper wat in die fondament gegooi is om die gebou teen aardbewings te beskerm. Daar is 13 verdiepings met meer as 1 000 kamers, 10 000 altare en 200 000 standbeelde. Dit is 117 m hoog en lê op Marpo Ri, die "Rooi Heuwel"; dit troon altesaam meer as 300 m bo die vallei uit.
Volgens tradisie verteenwoordig die drie hoofheuwels van Lhasa die "Drie Beskermers van Tibet". Chokpori, net suid van die Potala, is die siel-berg of Vajrapani, Pongwari dié van Manjusri, en Marpori, die heuwel waarop die Potala staan, verteenwoordig Avalokiteśvara.